OU PASTORIE VERANDER IN GEMEENTEHUIS

gemeentehuis

Die ou pastorie op NG moedergemeente se terrein het in die afgelope maande ‘n “facelift” ondergaan. Die eerste pastorie is in 1849 op dieselfde terrein gebou, in 1869 die eerste keer verander en verbeter en telkens daarna soos behoeftes en tye verander het. In 1942 is die gebou totaal deur ‘n brand verwoes en is die huidige gebou toe opgerig. Nou, na 68 jaar, was die ou pastorie oud, afgeleef, en het dringende sorg nodig gehad.

 

 

Intussen het die omgewing al verander, die behoeftes aan kantoorruimte, vergaderlokale, ‘n plek vir toerusting, spreekkamers vir predikante en beraders en veral ruimtes vir kleiner byeenkomste en kuierplek sterk na vore gekom. So het die gemeente in 2005 ‘n ander pastorie gekoop en die ou pastorie tot “gemeentehuis” gedoop, maar die plek het maar vervalle gebly. 

En toe kom ‘n gemeentelid, Lodewyk Coetzee, as jong argitek terug na Mosselbaai en begin drome droom en planne teken. En die kerkraad en gemeente en kontrakteurs en verskaffers en tuinboukundiges en vrywilligers begin hulle agter dié droom skaar. En siedaar – die lelike eendtjie verander in die mooiste swaan! Die historiese karakter van die gebou word oral tydens die projek nuut ontdek – onder matte lê die mooiste houtvloere, trappe van hout, die sandsteen mure word belig, die groot boom wat in 1942 geplant is word ‘n fokuspunt en ‘n groot kruis word gemaak om op die plek geplant te word waar die ingang van die eerste kerkgebou van die gemeente in 1845 opgerig was. Die erfenis komitee was nie verniet in vervoering oor die verhoging van die historiese waarde nie!

Maar tegelyk word ‘n nuwe, moderne, funksionele styl vir die toekoms ‘n werklikheid – die groot ruimte met glasdeure as nuwe ingang, die gemeente se nuwe logo, ‘n nuwe kombuis, badkamers, kantore, spreekkamers en die lieflike oop ruimte van plaveisel en tuin waar baie gekuier sal kan word. Die plek word nou werklik iets van ‘n “ancient future” belewenis waar die historiese en toekomstige hande vat, waar die oeroue evangelie in ‘n nuwe moderne styl vir die toekoms aangebied kan word.

Op Vrydagaand 17 September gaan ons formeel dankie sê – vir al die wonderlike mense wat hierbo genoem is en wat drome waar laat word het. En daar gaan groot feesvierings wees op Sondag 19 September – ons gaan ons roeping vier en die gemeentehuis ingebruik neem. Ons beplan ‘n opelug-diens, met nagmaal, op die terrein voor die gemeentehuis. En hier gaan ouer generasies stories vertel, en jonger generasies hulle bydraes lewer en die kruis gaan geplant word en die gemeente gaan ‘n lekker bring-en-eet saam geniet. Mense wat voorheen lede van Moedergemeente was, word genooi om weer saam te kom geniet en sommer enige persoon wat hierdie storie wil kom hoor. Dis voorwaar ‘n getuienis van God se goedheid hier in die midde van Mosselbaai waar ons “familie en vriend vir almal wil wees.”