GEMEENTEHUIS WORD INGEWY 

NG_Kerk Op Sondag 19 September 2010 is die nuwe gemeentehuis luisteryk ingewy met ‘n opelug diens, nagmaal en die oprigting van ‘n kruis om ons simbolies te herinner aan die verlede en te rig vir die toekoms. Die eerste pastorie op die kerkterrein is in 1849 gebou, in 1869 die eerste keer verander en verbeter en telkens daarna soos behoeftes en tye verander het. In 1942 is die gebou totaal deur ‘n brand verwoes en is die huidige gebou toe opgerig. Nou, na 68 jaar, was die ou pastorie oud, afgeleef, en het dringende sorg nodig gehad.

Die behoeftes aan kantoorruimte, vergaderlokale, ‘n plek vir toerusting, spreekkamers vir predikante en beraders en veral ruimtes vir kleiner byeenkomste en kuierplek het na vore gekom. ‘n Gemeentelid, Lodewyk Coetzee, het as jong argitek begin drome droom en planne teken. My visie vir die kekrterrein was om ‘n vriendelike, toeganklike, gemaklike samekoms, kuier- en ondersteuningsplek te skep waar ons as families in Christus bymekaar kan kom om te kuier, mekaar te ondersteun en beter te leer ken.

 Die kerkraad, gemeente, kontrakteurs, verskaffers, tuinboukundiges en vrywilligers het hulle agter dié droom begin skaar. Die historiese karakter van die gebou word oral tydens die projek nuut ontdek – onder matte lê die mooiste houtvloere, trappe van hout, die sandsteen mure word belig, die groot boom wat in 1942 geplant is word ‘n fokuspunt en ‘n groot kruis word gemaak om op die plek geplant te word waar die ingang van die eerste kerkgebou van die gemeente in 1845 opgerig was. Terselfdertyd word ‘n nuwe, moderne, funksionele styl vir die toekoms ‘n werklikheid – die groot ruimte met glasdeure as nuwe ingang, die gemeente se nuwe logo, ‘n nuwe kombuis, badkamers, kantore, spreekkamers en die lieflike oop ruimte van plaveisel en tuin waar baie gekuier sal kan word.

Met die inwyding van die gemeentehuis het sowat 1000 gemeentelede onder die koeltebome saamgekom om hierdie besondere mylpaal te vier. Die drie predikante, Dr. Gerrie van Deventer, Ds. Pierre Kies en Ds. Henri Meyer het elkeen deel gehad aan die geleentheid om sodoende die diversiteit van generasies wat saam as familie funksioneer, te reflekteer.

Die oprigting van die houtkruis op die plek van die eerste kerkgebou was ‘n spesiale oomblik. Simbolies van ons bande met die verlede, maar ook ons verwagting vir ‘n nuwe toekoms.  Honderde ballonne is deur die kinders in die gemeente die lug ingestuur as teken van ons teenwoordigheid in die wêreld, ons roeping en betrokkenheid in die breër gemeenskap.

 

Die gemeente se nuwe logo is ook tydens hierdie geleentheid gevier. Die grafiese ontwerper Krüger van Deventer beskryf die logo soos volg: Die logo simboliseer lewe in oorvloed. Die kruis is aan die hoof, om Christus as die  fokus van die gemeente te simboliseer. Die harte is die liefde tussen gemeentelede en hulle liefde vir God. Hierdie liefde straal Goddelike liefde en warmte uit. Die geronde vorms in die logo kan gesien word as vuur, wat die Helige Gees simboliseer, of watergolwe, wat eie is aan Mosselbaai maar ook ‘n konnotasie het met die werk van God. Dis logo is ‘n viering van die liefde en lewe wat God wakker maak in die harte van die gemeentelede. Liefde en lewe wat dan uitgestraal word na die res van die gemeenskap en die wêreld.

Ons roeping:

 God stuur ons om met ‘n Christusgesindheid familie en vriend vir almal te wees.

 

Ons belydenisse:

God is die kern van ons aanbidding waar almal welkom is.

Ons leef in afhanklikheid van die Heilige Gees.

Ons neem risiko’s om, soos Christus, anders te leef.