GETUIENIS IN AKSIE : ONS GELOOFSOFFERS AAN DIE WERK - NOVEMBER 2011
Gemeentelede het in Augustus hulle harte oopgemaak en beloof om oor die volgende 12 maande die bedrag van R236 200 as geloofsoffers vir getuienis binne en buite ons gemeentegrense te skenk. Ons loof en prys die Here vir hierdie onderneming. As getuienisbediening is dit ons erns om verantwoordelik met hierdie geld om te gaan en daarom wil ons graag voortaan maandeliks aan u terugvoer gee oor die besteding daarvan.
Ons mikpunt is om in die toekoms alle getuienisprojekte vanuit die geloofsoffers te finansier. Tans is dit nog nie ‘n werklikheid nie, maar ons glo in en vertrou op ons Groot Voorsiener.
Op die oomblik is ons in die middel van ‘n finansiële jaar en die situasie is redelik vloeibaar. Daar is sendinguitgawes wat deur die algemene begroting van die Kerkraad befonds word, maar vanaf die volgende finansiële jaar (begin Maart 2012) sal dit uit die geloofsoffers befonds word. Ons het dit dus goedgedink om voort te gaan om vir die res van hierdie finansiële jaar maandeliks dieselfde gemiddelde bedrag aan die huidige ontvangers van geloofsoffers oor te betaal as wat hulle tot dusver vanjaar maandeliks ontvang het. Die surplus bedrag uit die geloofsoffers word oorgedra na die 2012/13 finansiële jaar om ‘n buffer te vorm. Vanaf Maart word die maandelikse bydraes aan sendelinge en projekte vanuit die geloofsoffers verhoog. Die bogenoemde surplus fondse sal dan aangewend word om te verseker dat die ontvangers elke maand die volle bedrag wat onderneem is, ontvang. Die Kerkraad gee sy versekering dat alle geld wat as geloofsoffers inbetaal word, slegs aan die geïdentifiseerde sendingprojekte sal gaan.
Sodra die nuwe finansiële jaar in Maart afskop, sal ons meer duidelikheid hê oor die nuwe begroting en ook oor die volhoubaarheid van die beloofde geloofsoffers. Ons sal elke maand rapporteer oor hoe die geloofsoffers uitbetaal is.
Ons wil ook graag elke maand die kollig laat val op ‘n projek of sendeling wat geld uit die geloofsoffers ontvang. Ons begin met :
BIBLIA HAWESENDING
Wat doen Biblia?
Daar is 10 Biblias in hawens langs die Suider-Afrikaanse kuslyn vanaf Richardsbaai tot by Walvisbaai. Werkers van Biblia verkondig die verlossingsboodskap van Jesus Christus aan vissermanne wat Hom nog nie as persoonlike saligmaker aangeneem het nie. Daar word ook probeer om Christengelowiges op en by die vissersbote te ondersteun om hul geloof tot eer van God uit te leef te midde van ‘n harde en ruwe seemanslewe.
Wat is die werkswyse?
Daar word tyd saam met die vissers deurgebring om hulle persoonlik te leer ken. Met die opbou van vriendskapsverhoudings word die vertroue van die vissers gewen, sodat hulle makliker oor dinge van ewigheidswaarde kan gesels.
Kort erediensies word aan boord gehou, veral vir vissers wat nie naweke walverlof het en formele eredienste kan bywoon nie. Nuwe Bybels word gratis verskaf aan diegene wat daarvoor vra en die weg na God word aan hulle verduidelik. Dit word aangevul deur traktaatjies en ander Christelike leesstof.
Biblia Mosselbaai
Die Biblia van Mosselbaai het in 1989 tot stand gekom en word deur ‘n raad van trustees beheer. Elke Biblia is vir sy eie fondse verantwoordelik, wat verkry word van donateurs, kollektes by en skenkings van die verskillende kerke. Daar is geen geldelike bydrae of verpligting teenoor ‘n oorhoofse organisasie of hoofkantoor nie en die geld wat ingesamel word, kan bestee word aan Bybels in die verskillende tale. Vir elke R70 wat ingesamel word, kan een Bybel aan iemand geskenk word.
Wie werk by Biblia Mosselbaai?
Daniel Bruwer is die gesig van Biblia. Hy is al meer as 21 jaar hier betrokke en die geestelike behoeftes van die vissermanne lê hom na aan die hart. Sy arbeidsveld is ‘n interessante en kleurvolle verskeidenheid van mense. In sy eie woorde “elkeen met sy eie probleme, soms growwe dwalings in hul godsdiensbelewing, dikwels arm van gees, maar ryk aan woorde, veral wanneer die dop trek, dog altyd met ‘n uitstekende sin vir humor”. Mense wat dikwels ‘n leeftyd sonder Jesus agter die rug het en wat gewoond is aan ‘n ruwe seemanslewe. Maar ook mense met ‘n behoefte aan erkenning en aanvaarding van hul unieke menswees.
Deur in die vissers se wel en weë belang te stel, word hulle vertroue gewen en kan die stap uiteindelik geneem word om met hulle oor Jesus te praat. ‘n Langtermynverhouding word met hulle opgebou sodat hulle met vrymoedigheid kan gesels oor wat pla.
Kontakbesonderhede vir Daniel
Tel 044 606 7124
Sel 082 962 2929
E-pos This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Gebedsversoeke
Bid asb vir Daniel vir gesondheid en krag om sy baie belangrike werk voort te sit. Ook vir oop harte en dat die saad wat hy saai, sal groei en vrug sal dra.
|
GELOOFSOFFERS ONTVANG SEPTEMBER R14 770 OKTOBER R19 450
GELOOFSOFFERS UITBETAAL PROJEK / SENDELING SEPTEMBER OKTOBER Arbeidsbediening 650 650 Biblia 950 650 Geopende Deure 2 160 2 060 Ina Steyn, YWAM 1 600 1 600 Madagaskar-projek 1 300 1 300 Nic Strydom 100 200 TOTAAL R6 760 R6 460
Roux Meyer Marie van Nierop Voorsitter : Sendingbediening Sendingko-ordineerder Tel 044 693 9496 Tel 044 695 3127 |
Daniel Bruwer in Mosselbaai se hawe aan die werk (bo)
|
| < Prev | Next > |
|---|


