UITREIK:

Ontmoet ons bedieningslede:

Leraar: ds. Henri Meyer (083 455 6940)

Voorsitter: Vakant

Ander lede:

Hennie en Mareta Lombard,  Eric Loubser, Erica van Jaarsveld, Monica van Niekerk, Leana Barnard, Hannes en Helen Terblanche

Ontmoet ons sendelinge:

Ina Steyn, Youth with a Mission (YWAM), Londen

Ina is die sendeling wat al die langste van almal aan ons gemeente gekoppel is. Haar hooftaak is gebed en die geestelike ontwikkeling van jong leiers vir sending in Wes-Europa. Sy speel ‘n groot rol as intersessor en geestelike raadgewer in ‘n wêreld wat op sy kop gekeer is deur al die vlugtelinge en konflik in die Midde-Ooste en ander lande. Daarmee saam is die geestelike verval en wantroue in die kerk van die Europese jeug onder wie sy werk ‘n groot kopseer en groot nood. Ina is reeds sedert 1992 by buitelandse sending betrokke en is sedert 1996 werksaam in Europa. Ina het in 1998 deel van ons gemeente geword toe ons haar as sendeling aangeneem het.  Haar geestelike diepte en kennis van die Woord is vir almal wat haar ken van besondere betekenis. Sy sê: “Elke dag tel in die ewigheid. Ons moet stil loop, diep lewe en mooi luister na God. Ons het ons lewens aan Hom verloor, sodat ons onsself in Hom kan vind. Daar is geen ander pad nie.”

Johan en Esté de Nysschen, Operasie Mobilisasie (OM), Panama

Die De Nysschens was lidmate van ons gemeente en is die afgelope 9 jaar in Panama waar hulle onder die vaandel van OM werk. Voordat Covid alles tot stilstand gedwing het, het Esté ‘n naaldwerkbediening onder die inheemse en Panamese vroue  gevestig.  Dit het ongelukkig tot ‘n einde gekom vanweë geweldige inperkings en ook vrees by die mense. Johan staan reeds die afgelope 9 jaar aan die hoof  van die finansies van OM Sentraal-Amerika. Intussen het hulle betrokke geraak by die inheemse Ngobe-Indiane waar hul veral gemoeid is by kospakkies en liefdesdiens aan die weeskinders in die Comarca, die tuisland van die Ngobe-Indiane. Met 4 van hul 5 kinders hier te lande mis hulle hul kinders en kleinkinders geweldig. Hulle was laas in 2018 hier om by hul kinders te kuier. Tog bly hul blymoedig  omdat hul vreugde in die Here is. “And so, LORD, where do I put my hope? My only hope is in You.” Ps. 39:7

Kobus van Zyl

Kobus, ‘n boorling van Mosselbaai, is ‘n opgeleide predikant en is aan die Reebok-gemeente gekoppel. Saam met Reebok en 3 ander gemeentes ondersteun ons gemeente  al sedert 2005 vir Kobus. Die Here het hom aanvanklik in Kenia en Mosambiek gebruik waar hy by die opleiding van teologiese studente betrokke was. Terwyl hy in Mosambiek was, het die Here hom geroep om ‘n gebedsbediening in die Suid-Kaap te vestig. Hy bied oraloor gebedswerkwinkels aan. Op sy geboorteplaas het hy ‘n gebedstuin ingerig waar enigeen wat daaraan behoefte het, by verskillende gebedstasies kan stilstaan om met God te kommunikeer en net stil te word voor Hom. Sy bediening as sendelinghet hom ook by Suid-Soedan uitgebring waar hy al die afgelope 20 jaar plus betrokke is by teologiese opleiding. Hy probeer om jaarliks twee besoeke aan Suid-Soedan te bring, maar eers het die voortslepende burgeroorlog en later die Covid-pandemie hom gekniehalter. Vanjaar  (2022) bied Kobus ‘n groot gebedseminaar en –opeiding aan by die teologiese skool in Kenia waar hy sy loopbaan begin het. En van daar af gaan hy nou vir die eerste keer sedert die begin van die pandemie weer Suid-Soedan toe.

Nic en Tina Strydom, Madagaskar

Nic en Tina is reeds sedert 2000 in Madagaskar werksaam. Met die hulp van die Here is verskeie kerke geplant, selgroepe en jeugklubs gevestig en verskeie bemagtigings- en opheffingsprojekte vir die plaaslike bevolking begin. Deur sy ywer het ‘n Christelike radiostasie tot stand gekom wat ‘n beduidende bydrae tot die uitdra van die Evangelie lewer.

 In die afgelope 21 jaar het die Here vir Nic en sy helpers kragdadig gebruik. Deurgaans is hy besig met die opleiding van inheemse gelowiges sodat hulle uitgestuur kan word na die onbereiktes. Daar is geweldig baie onbereikte groepe in Madagaskar, sommige van wie nog nooit ‘n blanke gesien het nie. Sy harde werk werp vrugte af: die pionier-sendelinge is Geesvervuld besig om daagliks na onbereiktes uit te reik, en die mense is dors na die Woord van God, die Goeie Nuus. Daagliks kom mense tot bekering!  Die afgelope 5 jaar het geweldige groei gebring. In Februarie 2022 berig Nic dat daar ‘n totaal van 400 volhoubare kerke gestig  is, dat 457 sendelinge opleiding ontvang, dat daar in Februarie alleen 102 dopelinge was (nuwe bekeerdes, nie suigelinge nie) en dat 14,822 Malgassies gelowig geword het. Ons gemeente ondersteun Nic sedert 2010 toe ons met Hartenbos gemeente hande gevat het.

Paul en Toni Ferreira, Nepal

Die Ferreiras is ons gemeente se nuutste sendelinge.  Paul en Toni het van die begin af gevoel die Here roep hul na Suidoos-Asië. Hulle was in diens van Geopende Deure toe hulle roeping na Indië te sterk geword het. Hulle was vir 4 jaar in Varanasi (Noord-Indië), maar hulle visa-situasie in Indië het moeilik geraak, en toe het hulle na Nepal getrek om saam met ‘n pastoor daar te werk, meestal in opleiding.  Na 2 jaar in Kathmandu het hul tot baie  onlangs in Birendranagar in die Surkhet-distrik gewoon : baie afgeleë en bergagtig. Die afgelope 3 en ‘n half jaar in Surkhet was Paul se hooffokus steeds die opleiding en ondersteuning van inheemse pastore. Tydens die pandemie was hy genoodsaak om opleiding digitaal te begin doen: en dit op sigself het nuwe geleenthede gebring. Die Arabica-koffiekwekery waarmee hy vroeg in 2019 begin het – wat vir hom die deur is tot verblyfreg in Nepal – het sedertdien vele terugslae ondervind, meestal a.g.v. natuurrampe. Tog gaan die kwekery daar voort – hoog in die berge – met Arjun, ‘n bekeerde Nepali aan die stuur daarvan. Paul en Toni en die 3 kinders  (die sewejarige tweeling Madison en Daniel, en driejarige Timothy) was baie geïsoleerd in die weste. Ter wille van o.a. hul kinders moes Paul-hul veranderinge oorweeg. Nou is hulle terug in Kathmandu waar Paul hom veral ook gaan toespits op die gemarginaliseerde Moslems in die grootliks Hindoe-land. Paul was ons prediker op 27 Februarie 2022 by die herinstelling van ons Geloofsofferbeloftes. Jes. 6:8 “ Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan? Ek sê toe: Hier is ek, stuur my!”

Ons projekte:

WAAR EN HOE KAN JÝ GETUIG IN “JERSUALEM”?

Arbeidsbediening behels kortliks: Woordverkondiging in die werkplek, ondersteuning van Christengelowiges in die werkplek, ‘n skouer vir noodlydendes met wie kontak in die werkplek opgebou is, bv deur hulle by te staan en te troos met hulle persoonlike probleme (bv. werks-verlies, botsings in die werkplek. Kortom: Jesus wees vir ander! Die bediening is interkerklik en dit gaan suiwer oor die verkonding van die Evangelie.  ‘n Spesiale Dissipelskapafdeling volg nuwe bekeerlinge op en dikwels lei dit daartoe dat sulke bekeerlinge eie bedienings begin.

Stel jy belang? Kontak vir Pierrié: 076 092 9099.

Love Chinese reik uit na die Chinese in ons dorp en omgewing. Die afgelope 5 jaar se besoeke en ontmoetings met hierdie gemarginaliseerde mense in ons midde het hul gesindheid teenoor ons positief verander. Kom vat hande met diegene wat verstaan dat Jesus ook vir die Chinese in ons dorp gesterf het! Kontak Hennie en Mareta by 073 020 4118.

Moss-Liefde se hart is vriendskapsevangelisasie. Dit vra opoffering om week na week jou hand van vriendskap uit te reik na ander wat soms min openlike tekens van dankbaarheid teenoor jou toon! Maar as net EEN mens se lewe positief daardeur aangeraak word, is dit die moeite werd… ”dan het jy dit aan Mý gedoen”, sê Jesus.

By Sao Bras se skoolkoshuis reik ons uit na die tienerseuns en –dogters met ekstra Wiskunde-klasse, Bybelstudie, breilesse, naaldwerkklasse, aanleer van praktiese vaardighede (veral vir die seuns), kreatiwiteitsklasse en tafeltennis. Kom meld asb. aan as jy kan kom help! Ons het asseblief nog hande nodig! Soms net vir ‘n enkele keer. Kontakpersoon: Ena (082 736 5339) 

Is kleiner kinders dalk jou passie? Kom lees stories vir kinders in Sonskynvallei!  Little Seeds is ‘n handevat-projek van die NGK en VGK wat gerig is op die ontwikkeling van die kleiner kind.

Sonskynvallei: Elsabé (084 588 4077).

Moss-Liefde reik ook uit na vroue.  Kom vat asb. hande met Marelize, Marlene en Lucille en maak ‘n verskil in die lewens van vroue wat vanweë baie verskillende omstandighede in die Nagskuiling beland het. Vind uit hoe jý betrokke kan raak: kontak vir Marelize by 062 9966164.

Manna-Munte: gooi al jou kleingeld in die Manna-Munte-botteltjie, bring die vol een terug kerk toe, neem ‘n ander een, vul hom, bring hom terug…. En ons kan daarmee BYBELS koop vir die baie kinders en volwassenes in ons area wat dit nie kan bekostig nie. Botteltjies is beskikbaar by die deure en by die kerkkantoor. Vrae? Kontak Helen by 072 143 7196. Bybels vir alle kinders in Mosselbaai is een van ons groot drome: kontak vir Leana as jy hiermee kan help! (084 240 2866)

Taxi-bediening: met hierdie projek poog Lewies van Zyl om pendelaars met die Woord te bereik veral oor Paasnaweek en voor Kersfees. Wil jy Bybels skenk, of kom help Bybels uitdeel? Lewies: 082 507 1377.

WIE SE ARMS HOU ONS OMHOOG IN “SAMARIA EN DIE WêRELD”?

 Ons betrokkenheid by die Makhathini-gemeente in Noord-Zoeloeland kom al ‘n lang pad. Een van die kerkies daar is deur ons gemeente gebou. Ons ondersteun hul maandeliks met ‘n bedraggie.