Familiebediening

Welkom by die Familiebediening!

Hier word ons werksaamhede op die afsonderlike elemente van Familie-wees gefokus – Gesinne, Huwelike, ons Jeug en die Gemeente as Familie. Uiteindelik word die familie dan, deur die wisselwerking tussen Families en elke deel daarvan, as eenheid bedien.

Sentraal tot die bediening staan die 4 sleutels van praktiese geloofsvorming/-belewenis binne die gesinseenheid nl. Toewyding (Huisgodsdiens), Liefdevolle Geloofsgesprekke, Tradisies en Dade van Diens. Voortdurende kommunikasie, met dít in gedagte, is juis die rede waarom konneksie-vloei tussen die gesin en sy individuele dele “lewend” bly.

Familiebediening (Gesinne)

Die gesin, oftewel “Familie-eenheid”, is baie belangrik en vorm die kern van ons gemeente. Ons definieer dit anders as die tipiese Pa, Ma en kinders samestelling van ‘n gesin. Hier gaan dit oor almal wat onder een dak saamleef wat ‘n Familie-eenheid vorm.

In vandag se tye is dit baie keer ook kruis-genarasie gesinne waar Oupas en/of Oumas nog by hul kinders inwoon, saamgestelde gesinne, of jongmense wat in ‘n kommune-omgewing woon – die kombinasies is legio. Tog het elke “gesin” behoefte aan ‘n plek in die groter Kerk-familie.

Elke groepering word op sy eie besonderse manier bedien en sal kortliks hier bespreek word. Die seniors funksioneer onder ‘n aparte bediening.

 

Wild@Heart mannegroep:

Die manne kom Vrydag-oggende om 06h00 bymekaar. Rondom die Woord kry elkeen ‘n beurt om die groep te lei met dit wat op sy hart is. Die manne kuier ook een keer per maand om ‘n braaivleisvuur om mekaar ook só op ‘n meer persoonlike vlak te leer ken. Hulle maak gereeld sommer op die strand ontbyt en probeer met hulle aktiwiteite so na aan die natuur te kom as moontlik.

Kontak gerus vir Riaan van Nierop (082-337 5029) vir meer besonderhede.

 

Vroue Bybelstudie:

Die dames kom Dinsdae om 10h00 saam met Ds Henri byeen waar hulle rondom die Woord verkeer. Hulle raak ook gereeld betrokke by dienswerk soos die Gees hul lei na waar daar nood is in die gemeenskap.

Kontak vir Henri Meyer (083-455 6940) om by die Vroue Bybelstudiegroep in te skakel.

 

Immergroen Ouerskap:

Die Familiebediening bied jaarliks ‘n ouerskap kursus aan waar veral ouers leer om hul kroos (en mekaar) soos die lede van ‘n liggaam te hanteer: elkeen uniek, op sy eie manier, maar tog deel van ‘n groter eenheid.

Ds Pierrie Kies neem verantwoordelikheid hiervoor en kan gekontak word by 076 110 4202.

 

Familiebediening (Huwelike)

Nog ‘n sterk fondasie vir die Geestelike gesondheid van die gesin is huwelike. Ons weet hoe die lewe werk en soms is die “getroudes” ook geskeides of enkellopendes.

Daar is elke jaar ‘n Huweliksverrykingskursus rondom Augustus om weer bietjie te leer om op mekaar te fokus. Daar word ook jaarliks ‘n byeenkoms gereël vir geskeide persone spesifiek om ondersteuning te bied en die trauma wat egskeiding meebring aan te spreek.

Ons beoog ook ‘n gespreksgroep vir enkelouers wat baie spesifieke ondersteuning nodig het.

Kontak Ds. Gerrie van Deventer (084 436 9420) vir meer inligting.

 

Familiebediening (Jeug) 

Gelowige kinders volg baie makliker hul wortels om in die toekoms voort te bou op hul ervarings van ‘n praktiese geloof en daarom is dié deel van die bediening krities belangrik.

Ons kinders is ingedeel in 6 groepe wat tiperend is van waar hulle hulself op die geloofsgroeipad bevind. Die ouers word gemotiveer om aktief betrokke te wees in hul geloofsleiding rol in elkeen van dié fases. Daar is die Nuuskierige Agies (Voorskool), die Borrelklub (Graad  1-3), die Woord Weters (Graad  4-6), die Faith-agers (Graad 7-9), die Faith Followers (Graad 10-11) en die Faith Rebels (Graad 12).

Elke fase/groepering het toegewyde mentors om ons kinders deur elke fase te neem. Hul is ook verantwoordelik om deur middel van weeklikse kommunikasie ouers op hoogte te hou van wat in die Jeug Aksie (JA vir Jesus!) aan die gang is.

Benewens die weeklikse byeenkomste is daar ook kampe, kuiers en allerlei pret-dinge om die kinders mee besig te hou en hulle geestelike lewe te vorm en ontwikkel. Die interkerklike #IMAGINE beweging is baie belangrik.Plaaslik word #Imagine Kids vir die jonger kinders aangebied en vir tieners is die #Imagine saamtrek jaarliks in Bredasdorp.  

Die Familiebediening beoog tans ‘n opleidingskursus in dissipelskap vir kinders wat ander kinders wil bedien. Hou die webwerf dop vir meer inligting.

 

Familiebediening (Gemeente as Familie)

Om die gemeente as familie byeen te kry is ook van groot belang vir die eensgesindheid van die gemeente. Daardie lekker saamkuier soos mense dit met familiefees byeenkomste al jare lank doen.

Daar word elke kwartaal iets gedoen om almal by die groter eenheid van die gemeente te betrek. Die Jakkalsvlei Druiwepluk- en piekniek vind gewoonlik in die eerste kwartaal plaas. Ons Dankfeesbasaar in die tweede kwartaal is ‘n hoogtepunt op die kalender en oud en jonk word by hierdie heerlike gebeurtenis betrek. Ons gewilde Potjiekosdag vier die lente in die derde kwartaal en word ook gebruik om kos aan die plaaslike Nagskuiling te verskaf. In die vierde kwartaal beplan ons ‘n gesinsuitreik wat hierdie jaar na Lesotho gaan wees.

Hou die webwerf en ons Facebookblad (NG Moedergemeente Mosselbaai) dop vir meer inligting oor al ons aktiwiteite.